• Kameelperd


    Net buite die dorp by die Wildskamp 
  • Hertzogville Sonsopkoms


    Wat is nou mooier???
  • HERTZOGVILLE LANDBOUFEES 2018


Thursday  - 18 April 2024
Opkomende Gebeure


Welkom by Hertzogville


Hertzogville Geskiedenis - Historiese Agtergrond
 
Met die Groot Trek van 1836 was die binneland nie heel onbekend nie. Permanente boere het al in die Kaapkolonie tot teen die Oranjerivier geboer. Ivoor handelaars het gereeld verder noord in die Hertzogville omgewing kom olifante jag.  Sedert 1825 het blanke boere van tyd tot tyd met hul vee hier kom wei. Die gebied het as die Transgariep bekend gestaan.  Die gebied tussen die Vaal en Modderrivier ( Boshof distrik wat ook Hertzogville insluit) was deur enkele Boesman-Koranna basters bewoon. Twee kapteins, Dawid Danster en Kousop, alias Skeelkoos, het albei op die gebied aanspraak gemaak. Danster se stat was waar die dorp Boshof vandag geleë is. Daar was ‘n baie sterk standhoudende fontein en water was volop. In 1839 besoek Dawid Fourie saam met sy twee skoonseuns vir Danster.  In ruil vir ‘n wa, osse, skape en ‘n ryperd ruil hulle Boshof distrik van Danster. Alhoewel Skeelkoos die wettigheid van die koop betwis het, het die Britse Resident, Warden, dit goedgekeur en aan Skeelkoos ‘n ander stuk grond langs die Vaalrivier gegee. 
 
Vanaf 1840 is die hele gebied tussen die Vaal- , Vet- en Modderrivier onbewoon en vestig baie blanke boere hulle permanent in die gebied. Die vroegste blanke inwoners van ons huidige omgewing, het met kar en perde of ossewaens na Bloemfontein gegaan om by winkels te kom, kerk by te woon of sakebelange af te handel. Teen 1849 is ds. Andrew Murray die leraar van die N.G. gemeente in Bloemfontein en ook oor ons gebied. In 1854 word die Oranje Vrystaat Kolonie gestig en het die gebied ‘n regering. In 1856 word die dorp Boshof gestig, waaronder Hertzogville val. ‘n Sendeling, C.A.F. Nauhaus, word in 1857  as eerste vrederegter in die gebied aangestel. Met die uitbreek van die Basotho-oorlog in 1858, roep President Boshoff  alle weerbare Burgers in die Hertzogville omgewing op, om teen Mosjesj te gaan veg. Dit is dan ook die kans waarvoor Skeelkoos gewag het.  Hy was ongelukkig omdat die boere al die wild uitgeroei het en kos al skaarser geword het. Hy gaan op ‘n moordtog teen vroue en kinders wat alleen op plase bly. Baie word vermoor en vee word gesteel. Na die oorlog word Skeelkoos dood geskiet en sy bende gevange geneem. Op pad na Bloemfontein om verhoor te word, word hulle deur ‘n groep boere wat hul gesinne verloor het, voorgelê en tereggestel. Die boere was vermom en kon nie uitgeken word nie.
 
Vir die volgende 40 jaar sou daar vrede en vooruitgang in die Hertzogville omgewing wees, namate nog boere hulle permanent hier kom vestig. Grond is op huurpag aan boere toegestaan wat jaarliks huur aan die Vrystaat regering moes betaal. Die sandgrond na Hoopstad en Bloemhof se rigting was onbewoon en niks werd nie omdat die weiding daar minderwaardig was en diere daar gevrek het van haarwurm. Van die eerste boere wat in Hertzogville vestig, is die Du Plessis en van Rensburgs, wie se nageslag vandag nog hier woon. Wild en ongediertes was volop. Die laaste leeu in die omgewing word in 1882 deur Willie Strauss op die plaas Scheerpan geskiet. 
 Ook die laaste pokke-epidemie van 1884 gaan Hertzogville nie verby nie. Goud is ontdek, en baie mense migreer van Kimberley se diamant myne, na die goud myne in die noorde. Die roete noordwaarts gaan deur Hertzogville en pokke versprei vinnig in die distrik. Baie swart mense le langs die pad dood. In Hertzogville word hele gesinne uitgewis. Baie kinders word wees gelaat en onder bure uitgedeel. 
 
Vanaf 1857 is die naaste kerk op Boshof. Omdat dit so ver was, het die Hertzogville boere net Nagmaal bygewoon, wat heel naweek geduur het. Dit was ‘n groot geleentheid. Daar is met ‘n wa en osse getrek. Produkte is verkoop, voorraad is aangekoop, kinders word gedoop, getrou en gekatkiseer. Die eerste gedagte van ‘n nuwe dorp het ontstaan omdat die kerk so ver was en baie mense afvallig geword het.  Daar was heelwat plaasskole, soos op Biesiefontein,  Sweethome en Talsen.  Jode, Horwitz, het winkels op Kareespruit en Sweethome gehad.  ‘n  Engelse immigrant, Roberts, het ‘n winkel by Driefontein gehad.  Op Kareespruit was ‘n herberg waar dit soms so jolig gegaan het, dat mense op die tafels gedans het. Oor die Kersgety is met die ossewaens na Florisbad getrek waar vir twee weke uitgespan en jukskei gespeel is.
 
Die droom van ‘n eie gemeente en nuwe dorp word in 1899 onderbreek met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog, wat elke gesin sou raak. Alle weerbare mans en seuns gaan veg, terwyl die vrouens na die boerderye omsien. Generaal Jan Smuts, is in Mei 1901 op die spoor van ‘n Engelse Kommando, wat in die Hertzogville omgewing opereer, en vertel van die verwoesting wat hulle agterlaat. Beeste word in troppe bymekaar gejaag en die veld aan die brand gesteek, sodat hulle lewend dood brand. Oral loop half gebrande beeste en kalwers op soek na hul ma’s. Plaas opstalle word afgebrand.  Vrouens en kinders moet vlug. Die wat gevang word, word in konsentrasiekampe gegooi, waar daar baie lewensverlies is. In Junie 1902 keer die boere terug na hulle verwoeste plase. Die meeste boere het al hul vee verloor en is totaal verarm.  Die verslae gemeenskap staan uit die as op, om van vooraf te begin.
 
Die Nuwe Dorp
 
Eers weer in 1911 was daar weer ‘n algemene gevoel dat daar ‘n nuwe dorp gestig moet word. Verskeie vergaderings is gehou om ‘n geskikte ligging te bepaal. Daar was 3 plase wat aandag geniet het nl. Slangfontein, Rietvlei en Klaarwater. Eenstemmigheid kon nie bereik word nie en die Administrasie is gevra dat ‘n kommissie dit ondersoek. Die kommissie het vanaf Christiana  met ‘n perdekar gery. Die kommissie het op die plaas Palmietpan, van mnr. Sarel Bornman vergader, en al die voorstelle afgekeur. Met hulle terugreis, beveel hulle die plaas Donkerfontein aan, wat aan mnr. De Waal behoort het.
 
In 1914 word die gemeenskap a.g.v. die Rebellie in twee gedeel. Ten spyte hiervan,  is ‘n aankoop kommissie gestig, wat uit nege lede bestaan.  Hulle koop die plaas Donkerfontein vir 6 000 Pond van weduwee De Waal. Op ‘n vergadering vroeg in 1915 by die waenhuis van die plaaswoning,  later die pastorie, word besluit oor ‘n naam van die toekomstige dorp. Die oorspronklike plaasopstal bestaan vandag nog. Daar was twee voorstelle: Gladstone (Goewerneur Generaal van die Unie – 1910 tot 1914) en Hertzog. Na ‘n stemmery, word op Hertzogville besluit.  Landmeters het dadelik met die opmeet van die erwe begin. Op 15 Desember 1915, verskyn die proklamasie van die nuwe dorp, in die staatskoerant.  Sybrand  Strauss word tot eerste burgemeester verkies. Die nege lede van die aankoop kommissie is nooit vergoed nie en moes die finansiële las self dra. Baie het hulle eie grond verloor.
 
Die nuwe gemeente word in Junie 1917 gestig. Op 7 Oktober 1917, word die eerste nagmaal gehou, onder ‘n kareeboom, by die ou plaasopstal. In 1918 beroep die gemeente sy eerste predikant, ds Killian. Daar is ‘n groot behoefte aan ‘n “Godshuis”. Daar word besluit dat eers ‘n kerksaal gebou sal word, dan ‘n sendingkerk in die lokasie, omdat daar gevoel is dat die behoefte daar groter is. Die hoeksteun van die sendingkerk word in 1923 gelê. Op 24 Oktober 1924 lê Generaal Hertzog die hoeksteun van die Klipkerk op Kerkplein, in die middel van die dorp. Die argitek, Moerdyk, sou ‘n kerk van ysterklip bou met 800 sitplekke, teen 12 500 Pond (R25 000). Die voltooide kerk word op 24 April 1926 in gebruik geneem. Die huidige orrel word in 1929 in gebruik geneem teen ‘n koste van 1 300 Pond.  Die oorspronklike plaasopstal dien as pastorie. Alhoewel daar toe enkele motors was, is hoofsaaklik perdekarre gebruik, om by die kerk te kom.
 
Met die stigting van die nuwe dorp, sluit die plaasskole op Koekemoersfontein  Sweethome en Palmietpan, en word ‘n gebou met drie klaskamers, op die nuwe dorp in gebruik geneem, met 19 kinders. ‘n Nuwe ysterklip skool word gebou en in 1917 betrek. Die skool groei so vinnig dat dit in 1925 al onderrig gee tot st. 7 en in 1930 tot st. 8. In 1957, skryf die eerste 5 leerlinge hulle matriekeksamen. Die eerste skoolhoof, mnr. Viljoen, is 38 jaar lank hoof van die skool.
 
Die Jood Horwitz, sluit die winkel op Sweethome, en bou ‘n groot nuwe gebou op die dorp, met n kroeg aan die voorkant, en plek om jou perd vas te maak. Na byna 60 jaar se besigheid, sluit “Lewitt se winkel”, soos dit bekend gestaan het. Vandag is dit n ouetehuis. Die groot droogte van 1933 en die daaropvolgende depressie, dwing baie boere van hul plase af om elders te gaan werk soek. Met die stigting van die Ossewa-brandwag in 1939, gaan Hertzogville weer deur erge politieke verdeling. Van die leiers, o.a. Robbie Leibrandt word by Hertzogville, in n huis se kelder versteek.
 
Kerse en lampe is gebruik tot 1963, toe die dorp sy eie kragstasie kry. Strate was net twee spore. Elke woning het n melkkoei gehad wat die hele dorp vol geloop het. Tussen die huise was nagstrate, waar n nagkar die emmers van die buite toilette in die nag kom skoonmaak het, omdat spoeltoilette nie bestaan het nie. Hertzogville se grond strate is in 1990 geteer.  

Soos oorvertel en nagevors deur T.  Linde