Kunstenaar 2018
Belangrike vorms en dokumente vir aflaai :
Beskrywing |
Link |
Formaat |
> Landboufees Program 2018 |
Laai af |
jpeg (.jpeg) |
> Landboufees binne stalletjies aansoek vorm & Reëls 2018 |
Laai af |
pdf (.pdf) |
> Landboufees buite stalletjies aansoek vorm & Reëls 2018 |
Laai af |
pdf (.pdf) |
> Perdeprogram 2018 |
Laai af |
pdf (.pdf) |
> Landboufees Perde Inskrywing 2018 |
Laai af |
pdf (.pdf) |
|
|
|
|
|
|
Landboufees - Geskiedenis
Bessie Linde (90), Sarel Bornman (77) en Choppy Roberts (73) is aan die woord oor die beginjare . . .
Tannie Bessie vertel: “Daar in die vroeë 1940’s het die gemeenskap om Persentpan sommer vir die lekkerte ‘n perdesportdag gereël. Almal was daar vir ‘n dag van saamkuier. Dit was toe dat vyf van ons – dis nou Oom Bakkies Bothma, Schalk Wessels, Martin de Villiers, Jan de Wet Linde en ek op die idee gekom het om só ‘n dag op Hertzogville te hou. Nee wat – wat van ‘n volwaardige skóú?!
Die saadjie was geplant – as’t ware die eerste mieliepit in die grond! Terug by die huis het ons eers by bestaande skoue gaan kers opsteek. Die idee het groot byval gevind. Met borrelende entoesiasme stig ons ‘n mans- en dames-komitee. Ons nader die plaaslike Munisipale Raad vir ‘n geskikte terrein en kry die huidige terrein as skenking. Die manne bou ‘n saaltjie vir die dames-afdeling; alle ander fasiliteite sal eers onder tente moet wees. Daar was nie trekkers of implemente nie. Bane is gereed gemaak met die middele tot die manne se beskikking.”
En Oom Sarel onthou: “Daar was nie stalle nie. Die beeste is met draad vasgemaak en van voerbakke voorsien. Die perdestalle was seile en pale.”
Tannie Bessie vertel verder: “Ons laat toe ‘n program druk, kry beoordelaars en adverteer ons éérste eendag-skou. Van skou-hou het ons nie veel geweet nie, maar ons was, na óns mening, skou-gereed.”
“Elkeen met ‘n gawerige dier, wat hý dink skouwaardig was, skryf in. Ons kry ook sommer heelwat inskrywings van buite ons grense – buurdorpe: ‘skouwyse’ mense! Die ywerige vroue van Hertzogville gooi die lokaaltjie hééltemal toe onder hulle vlyt, vaardighede en vernuf: dis gebottel en gebak, handwerk en stene en stene seep. Die kompetisie was warm! Elkeen hoenderhen op haar eie handewerk-hoop . . . só moet dit mos gedoen word!”
“Ons skop af in Maart 1947. Perde kom uit alle oorde: gelei, gedryf of gery. Party van die “skou”-diere is sommer aangeja. By gebrek aan stalle word party perde deur handlangers vasgehou; die meerderheid word sommer saam ingejaag in ‘n kampie agter die terrein. ‘n Hele paar perde-eienaars het hier gratis dekking bekom!”
“Die gemeenskap daag byna voltallig op. Daar was ‘n heerlike gees van saam-kuier. Dit gesels, dit eet en dit drink. Seeppotte vol braaivleis, wors en sosaties staan gereed. Jy soek uit en betaal vir dít wat op jou bord was (sou Woolworths sy idee hier gekry het . . ?). Koffie, tee en gemmerbier was gratis; ons het nog nie geweet ‘n mens kan dit óók verkoop nie – watwou nog van kaartjies?! Alle ander ‘voggies’ word so verskuild moontlik geniet, want Dominee en die ringkoppe van die kerk was ook daar rond om ‘n wakende ogie oor húlle kudde te hou!”
“In die arena word daar resies gejaag en gespring (sommer oor garingboom-pale op dromme). ‘n Paar ruiters het sonder hulle perde oorgegaan, maar gelukkig sonder ernstige beserings aan mens of dier. Daar word gery, gedryf en aan die halter geskou. Die mense van oor die grense – die ‘skouwyses’ – het egter met al die pryse weggeloop!”
Oom Sarel vertel: “Die perde-afdeling was die oggend – ‘n paar ryklasse en dryfklasse en teelklasse. Die middag is daar boeresport gehou met die perde – items soos ertappel in die emmer, lemoenkap, pensteek, vlegreisies en aflosreisies. Almal het dit vreeslik geniet!”
Tannie Bessie gaan voort: “Toe die beoordelaars met ons klaar was, lyk ons ‘gawerige’ diere ook nie meer vir ons so gaaf nie. Die beoordelaars moes mos geweet het ons ‘skouvreemde’ diere sou skrik vir ‘n wapperende vlag of ‘n bulderende stem oor die luidspreker, magtig! Ons hoor ook van ‘sekelhakke, splinte, bokknieë en skaapnekke’. By die beeste hoor Oom Japie sy gunsteling koei, Bella, se uier sit kwansuis nie reg aan nie; en sy’s te spits van agter en te manlik van voor. Oom Abraham se spogbul moes, volgens die beoordelaars, in kalftyd al van sy vermoë om gene oor te dra, ontneem gewees het. Ons was ontnugter – te pletter! Gelukkig kon die beoordelaars darem teen die einde van die dag sonder beserings vertrek!”
Oom Choppy onthou ook nog van die perdeboer wat jare later die kampioenskappe gehaal het met sy donkerbruin perd en sy swart perd voor die perdekar. Maar hy wou die perde dieselfde kleur gehad het. Met behulp van swart Zebo-stoofpolitoer wen hy toe die kampioenskap met sy twee ‘swart’ perde – net voor die politoer begin afsweet!
Tannie Bessie spog: “By die dames het dit klopdisselboom gegaan en hulle vlyt was beskou as van die hoogste gehalte. Daar trek wel so ‘n paar vriendskappe skeef in die hitte van die kompetisie en daar was ook ‘n ligte onderonsie by die seepkooksters. Dit bly gelukkig lig en die seepstene heel! Van hierdie beoordelaars word harlik afskeid geneem – wel, nie deur almal nie!”
“Niks kon egter die geesdrif demp nie. Almal was dit eens dat dit ‘n grootse poging was wat elke jaar móés plaasvind – amper soos om twee maal per jaar Kerkbasaar te hou!”
Oom Choppy las aan: “Die dames-afdeling het gegroei vanaf ‘self vleis bewerk’ onder die seile, kompetisies, inskrywings van geslagte hoenders, boerseep, groente, vliegduiwe en die fynste naadwerk tot die weergalose aanbiedinge van vandag.”
Oom Sarel: “Ja, en in 2011 het ons ons eerste SA Saalperd Vrystaat Streekskou aangebied . . .”
Tannie Bessie: “Nou ja, ‘n boer laat hom nie twee maal op sy eie werf verneder nie. Ons het gaan huiswerk doen, aankope is gemaak, diere gevoer, ge-‘polish’ en ons (én die diere) het ‘skouwys’ geraak. Die volgende jaar was ons gereed vir die mense van oor die grense én die beoordelaars. Ons het nou wel nie die baan oorgeneem nie, maar het darem ook so hier en daar met ‘n rooi kaartjie van die baan gekom.”
“En so het ons skoutjie oor die jare gegroei. Kwaliteit-diere is aangeskaf en fasiliteite is verbeter. Daar is selfs ‘n paviljoen gebou. Die fondse het uit die donateurs se sakke gekom. Ons het deur die moeilike, droë jare vasgebyt toe ander klein skoutjies tot niet gegaan het. Laterjare het die vermaak en ander bedrywighede plek gekry in ‘n reuse-tent en in 2012 is ‘n feessaal van 1 200 m² met ‘n afdak van 360 m², wat op die arena uitkyk, in gebruik geneem.”
Bessie Linde sluit af: “Op hierdie nederige fondamentjie het ywerige, kundige en ondernemende mense voortgebou en dit tot ‘n prag-Streekskou ontwikkel: ‘n nalatenskap aan Hertzogville om op trots te wees. Ek is jammer dat net ek van die pioniers oor is om dit te kan geniet. Ek wens elkeen van hulle het die voorreg gehad.”
Ter opsomming: Die eerste Landbouskou op Hertzogville is gehou in 1947. Mnr Jimmy Roberts was die eerste voorsitter en het die taak 22 jaar lank verrig. Die eerste sekretaris en sekretaresse was mnr Schalk Wessels en mev Pietie Roberts.
Die huidige voorsitter is Rudi van der Merwe en die sekretaresse, Charlene Delport.
In volgorde was die volgende persone voorsitters: Mnre Jimmy Roberts, Kosie van Rensburg, Abraham Joubert, Danie de Kock, Choppy Roberts, Gert Malherbe, Boy Pretorius, Hennie Coetzee, Choppy Roberts, Harry Roberts, Frank Voigt, Gert Malherbe, Willie Goosen, Thinus Linde en Rudi van der Merwe (huidig).
Die dames-afdeling is nog al die jare aktief en gaan van krag tot krag.
Verskeie SA-, Vrystaat- en Streekskampioenskappe van die saalperde en in verskillende bees- en skaaprasse is die afgelope aantal jare aangebied. Die Saalperd-afdeling is van hoogstaande gehalte en verskeie SA Kampioene is al op Hertzogville vertoon en gekroon. Die industriële uitstalling van landbou-implemente en voertuie vertoon ook sterk en brei nog steeds uit.
In 2006 is besluit om “Landbouskou” na “Landboufees” te herdoop, want op Hertzogville word nie net ge-“skou” nie; daar word ook ge-“fees”!
Hertzogville bied met trots een van die beste landboufeeste in die Vrystaat aan en daarom word hulde gebring aan die stigterslede en al die vorige besture wat van Hertzogville se Landboufees die reuse-sukses gemaak het wat dit vandag is.
Oom Sarel: “As ek vandag terugkyk, kan ek net hulde bring aan die voorsitters, sekretarisse, bestuurslede en vertoners wat vasgebyt het en hierdie skou uitgebou het tot die sukses wat dit vandag is. Ons eer hulle nagedagtenis. Vir die huidige Feesbestuur: Alles van die beste. Vasbyt, julle!”
Oom Choppy: “Dit is met trots, ‘n glimlag en ‘n traan dat ek terugdink. Almal het saamgewerk met één doel voor oë: óns dorp, óns skou.”
Tannie Bessie: “Aan die skoukomitees van al die jare: baie dankie! Ons weet hoeveel harde werk, opofferings en koste dit van julle geverg het. Ons waardeer dit! Hertzogville bring hulde aan julle . . . “
Visie
Die aanbieding van > n jaarlikse, susesvolle Landboufees te Hertzogville.
Missie
- Om >n jaarlikse Landboufees deur die gemeenskap van Hertzogville vir die gemeenskap van Hertzogville aan te bied;
- die doeltreffende uitbouing en vertoning van die distrik-landbou, besighede, kundigheid en entrepreneurs van die gemeenskap vir die voortbestaan van Hertzogville;
- die generering van fondse vir plaaslike instansies;
- om die gemeenskap van Hertzogville tot >n hegte eenheid saam te bind.